Goed begin is half gewin
Hier by Oefenskool glo ons dat die beste begin in ‘n gesonde fondasie lê. Kinders is elke dag besig om te oefen om skool- en lewensvaardig te word en hiervoor het hulle ‘n veilige oefenruimte nodig waar hierdie fondasie vasgelê kan word.
As dit klink na iets wat vir jou as ouer ‘n prioriteit is in die keuse van ‘n skool vir jou kleuter, dan is Oefenskool vir jou.
Die basiese boustene van die fondasie wat ons saam met ons ouers vaslê is die volgende:
Die Voordeel van Lekker Speel
Een van die belangrikste boustene vir die ontwikkeling van ‘n gesonde
fondasie vir enige kind is om te speel. Navorsing wys dat spel die geleentheid aan kinders gee om hulle kreatiwiteit te gebruik in ‘n proses wat gelykertyd hulle verbeelding, behendigheid, fisieke, kognitiewe en emosionele vaardigheid versterk. Spel is van kardinale belang vir gesonde brein-ontwikkeling en is die wyse waarop kinders leer om met hierdie groot wêreld interaksie te hê. Spel is dus die hoeksteen waarop elkeen van die volgende boustene rus.
Fisieke Welstand
Die belangrikheid van ‘n kind se fisieke welstand kan nie genoeg beklemtoon word nie. Wanneer die liggaam genoegsame oefening inkry, tesame met ‘n goeie diëet, stel dit ‘n kind in staat om in al die ander areas van sy/haar lewe te presteer. Daarom poog ons by Oefenskool om ‘n goeie ritme te handhaaf tussen vry- en konstruktiewe spel sodat kinders hulle fisiese mylpale kan bereik. Ons verwys ook hier na fisiese kwofsiënt (FK).
Emosionele Welstand
Navorsing wys dat die grootste bepaler van sukses in die werkplek ‘n mens se emosionele intellegensie kwofsiënt (EK) is. By Oefenskool is dit dus vir ons belangrik dat jou kind hier ‘n ruimte sal hê waarin hulle kan groei in hulle emosionele intellegensie. Ons doen dit deur elkeen van die boustene van emosionele intellegensie naamlik selfbeeld, selfuitlewing, sosiale verantwoordelikheid, besluitneming, en probleemoplossing doelbewus by ons sillabus en spel in te werk.
Verstandelike Welstand
Ons leef in ‘n samelewing waarin ‘n baie hoë premie op akademiese prestasie (IK) geplaas word. Oefenskool wil graag vir jou kind die heel beste voorsprong gee deurdat ons ‘n amptelike sillabus (ELDA) volg wat gemik is op skool gereedheid.
Geestelike Welstand
Anders as die bogenoemde boustene het geestelike welstand te doen met ‘n baie belangrike vraag naamlik: Hoe verstaan ek my identiteit en doel as mens? Ons glo dat die antwoord op hierdie vraag ten diepste lê in ons verhouding met Jesus Christus. Oefenskool is dus gefundeer in die Christelike geloof en ons poog om jou kind gesonde geloofsgewoontes aan te leer in die ontdekkingsreis van wie ek in hierdie groot kosmos is.





